Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 28 JUNIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za. Klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

ONTVANGERS VAN SA AMATEURRADIOONTWIKKELINGSTRUST SE TOEKENNINGS AANGEKONDIG

VANAAND SE INTEGNET BEKYK OPTIESE KOMMUNIKASIE

BACAR VLIEG OP 25 JULIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

ONTVANGERS VAN SA AMATEURRADIOONTWIKKELINGSTRUST SE TOEKENNINGS AANGEKONDIG

Tydens ‘n galafunksie wat op Woensdag in Midrand gehou is, het die SA Amateurradioontwikkelingstrust die jaarlikse toekennings vir die radioamateur-van-die-jaar en konstruksietoekennings gemaak.
Met die aankondiging van die 2009 wenners het die uitvoerende voorsitter van die Trust, Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, gesê dat belangrik is dat suksesse gevier word en om erkenning te verleen aan radioamateurs wat ‘n groot bydrae aan die tydverdryf maak. Hy het Nokia Siemens Netwerke bedank vir hulle deurlopende ondersteuning. hulle stel ‘n voorbeeld aan industrie om verder as sportborgskappe te gaan en om geleenthede om erkenning aan wetenskap en tegnologie te verleen.
Hy het ook ‘n boodskap vir die Goewerment en Besigheid gehad. Hy het gesê dat amateurradio vaardighede in kommunikasie en elektronika ontwikkel, amateurradio Suid-Afrika in die wêreld bevorder, amateurradio ‘n gemeenskapsbate is wanneer dit die meeste benodig word – gedurende rampe en noodtoestande en dat amateurradio dus hulle erkenning en finansiële ondersteuning verdien.
Siseko Ngxola, besigheidsraadgewer by NSN het in antwoord gesê dat Nokia Siemens Netwerke graag hulle betrokkenheid ‘n stap hoër wil neem en met die Trust, die SARL en radioamateurs wil saamwerk om amateurradio na skole te neem wat tans deel van hulle sosiale verantwoordelike inisiatiewe is.
Die NSN Radioamateur-van-die-jaar eerbewys is aan Dennis Green, ZS4BS, toegeken in erkenning van sy toewyding aan die ontwikkeling van amateurradio en sy bydrae as redakteur van twee kommunikasiekanale: Radio ZS en HF Happenings. Hy is onlangs as ‘n Raadslid van die SARL herkies en verkies as sekretaris van IARU Streek 1 en hy gaan voort om ‘n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van amateurradio in Suid-Afrika en internasionaal.
SARLNuus is bedroef om te rapporteer dat Dennis se eggenote, Willa, weens ‘n hartaanval die lewe gelaat het die dag nadat hulle van die toekenningsfunksie na Bloemfontein teruggekeer het. Die Raad van Trustees van die SA Amateurradioontwikkelingstrust en die Raad van die SARL betuig hulle innige meegevoel met Dennis en sy familie.
Die Garth Milne Tegnologiese toekenning word gedeel deur Andrew Roos, ZS6AA, en Hannes Coetzee, ZS6BPZ, ter erkenning van hulle ontwerp en ontwikkeling van die amateurloonvrag op SumbandilaSat wat op 21 Augustus vanaf Baikonur staan gelanseer te word.
Die NSN Amateurradiogemeenskapsdienstoekenning het gegaan aan Francois Botha, ZS6BUU, ter erkenning van sy toewyding, as Nasionale Direkteur van HAMNET, vir die ontwikkeling van amateurradio as ‘n ondersteunende kommunikasiediens gedurende noodtoestande en rampe.
Die jaarlikse konstruksiekompetisie, waarvoor Multisource die prys borg, is gewen deur Carson McAfee, ‘n tweedejaarstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat ‘n Quadra-Helixantenna gebou het.

VANAAND SE INTEGNET BEKYK OPTIESE KOMMUNIKASIE

Hoe sal u daarvan hou om d.m.v. net ‘n klompie liggewende diodes te kommunikeer? Sluit vanaand, Sondag 28 Junie, om 19:30 by die SARL se Integnet aan wanneer daar gepraat gaan word oor optiese kommunikasie ‘oor die horison’.
‘n Groep Australiese radioamateurs eksperimenteer met optiese kommunikasietoestelle en het onlangs d.m.v. JT65a-modus ‘n afstand van 209 km. bereik deur gebruik te maak van wolkweerkaarsing en gebruik van rooi lig op ‘n frekwensie van 478 Terahertz. Hulle het stapels van LED’s gebruik, gefokus deur klein plastieklense (soos in flitsligte gebruik) en ‘n groot area “avalanche” fotodiodeontvanger. Rex Moncur, VK7MO, sal vanaand op Integnet by ons aansluit om sy ondervindings met ons te deel.
Klubs wat graag aan die besprekings wil deelneem, en hulle herhaler aan die net wil koppel, moet voor 12:00 vandag ‘n e-pos stuur aan armi@sarl.org.za en daarin die telefoonnommer vermeld wat vir die koppeling gebruik gaan word.

BACAR VLIEG OP 25 JULIE

Die lang afgewagte vlug van BACAR sal op 25 Julie 2009 plaasvind. ‘n Voorbereidingsvergadering sal op, Saterdag 11 Julie om 09:00 by die NARS gehou word om die volle loonvrag te toets en moontlike lanseringsterreine te oorweeg sowel as die verwagte windtoestande, die op die lug rapporte en aktiwiteite by die NARS op 25 Julie en herwinningsoperasies onder oë te neem. Almal wat belangstel om aan die bedrywighede deel te neem word aangemoedig om hierdie besprekingsessie by te woon.
Meer besonderhede sal beskikbaar wees op www.amsatsa.org.za.

SARL GAAN ONDERHOUD AAN FORUM DOEN

Die nuutaangestelde moderator vir die SARL se forum, Gerard Coetzee, ZS3TG, het begin met ‘n onderhoudsprojek om die databasis van forum van die SARL meer stroombelyn te maak ten einde gebruikersondervinding te verbeter. Tans is daar 1 830 gebruikers op die forum geregistreer waarvan slegs 500 sedert April 2007 aktief is.
Die onderhoudsprojek sal die volgende aksies behels:
Alle gebruikers wat die forum vir die laaste keer voor 1 Januarie 2007 besoek het, sal verwyder word. Gerhard sal die oorblywende lede kontak wat nie oor ‘n roepsein as ‘n gebruikersnaam beskik nie en of ‘n roepsein of ‘n naam en van vir gebruik as ‘n gebruikersnaam versoek.
Alle dormante gebruikersrekeninge sal voor die einde van Junie skoongemaak word. Gedurende Julie sal gebruikersnaamaangeleenthede hanteer word.
Die SARL versoek dat alle gebruikers van die forum hulle volle samewerking aan Gerard bied.

SONVLEKSIKLUS 24: NUWE SONVLEKGROEP MAAK SY VERSKYNING

Daar is moontlik ‘n bietjie goeie nuus op die voortplantings- en moontlik ook op die DX-front. Thomas Giella, NZ4O, dat op Maandag 4 Junie het ‘n nuwe sonvlekgroep in die Suid-Westelike kwadrant van die son sy verskyning gemaak. Dit word verwag dat NOAA nommer 11 023 met ‘n beta magnetiese eienskap aan die groep sal toeken.
Tom, wat in Lakeland, Florida woon, merk op dat sonkykers vier siklus 24 sonvlekgroepe hierdie maand en ses gedurende die afgelope 30 dae waargeneem het. Hy voeg by dat dit wil voorkom asof sonsiklus 24 finaal begin lewe het.

KOMPETISIENUUS

Die Durban ARK se midwinternaelloop word op Woensdag 1 Julie vanaf 19:00 tot 20:00 SAT gehou. Hierdie is 'n pretgeleentheid om kontakte tussen radioamateurs in Suider-Afrikaanse lande te bevorder. Aktiwiteit is op 80 meter tussen 3 603 tot 3 650 en 3 700 tot 3 800 kHz. 'n RS-verslag en ouderdom word uitgeruil, dames gebruik 21. Kontakte met stasies in dieselfde ZS-roepgebied of Suider-Afrikaanse land tel 2 punte. Kontakte met stasies in verskillende ZS-roepseingebiede of Suider-Afrikaanse lande tel 4 punte.
Logstate moet 15 dae na die kompetisie ingedien word en kan per e-pos na zs5lp@sharksden.co.za of per gewone pos na Durban Amateurradioklub, Brownleeplek 17, Bluff, Durban, 4052, gestuur word. Die sluitingsdatum vir logstate is Donderdag 16 Julie 2009.

AANBIEDING: RADIOGOLWE IN DIE RUIMTE

Satelliete en ruimtegebaseerde radio is die hoeksteen van baie van ons moderne kommunikasiestelsels. Sonder hulle sal moderne telefoonoproepe, televisie, bank- en ander dienste nie bestaan nie. Maar satelliete is nie die enigste manier waardeur kommunikasie via die ruimte kan geskied nie. Kom en besoek die Hermanus Magnetiese observatorium op Woensdag 1 Julie om 19:00 vir ‘n aanbieding deur Lindsay Magnus en Lee-Anne McKinnell. Hulle sal aantoon watter tipes van kommunikasietegnologie by die HMO nagevors word en hoe u en die persoon in die straat betrokke kan raak met wat hulle doen.
Sluit by hulle aan vir ‘n prettige, insiggewende aand aangaande ruimtegebaseerde kommunikasie met interaktiewe demonstrasies deur HMO-personeel en studente wat vir sal voorstel aan die verskillende maniere waardeur kommunikasie gedoen kan word. Daar is geen ouderdoms- of tegnologiese vereistes nie ... slegs ‘n nuuskierige brein!
Die lesing sal aangebied word in die HMO-wetenskapsentrum an almal is welkom om dit by te woon. Sitplekke is beperk dus skakel vir Priscilla by 028 312 1196 ten einde ‘n sitplek te bespreek.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Gedurende die week was daar twee klein sonvlekkies wat in die tussentyd reeds weggekwyn het. Daar word verwag dat die gebrek aan sigbare sonvlekke vir 'n rukkie sal aanhou.
Met winter hier is die hoeveelheid energie van die son wat die Suidelike ionosfeer bereik besig om steeds verder af te neem. Dit het 'n merkbare effek op die HF-toestande. 15, 17 en 20 m is nog steeds die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na die Ooste en die Weste goed wees. Gedurende laatmiddag en die aand gaan toestande na die Noorde goed wees. Vroegoggend is daar 'n moontlike kans om kontakte met Australië en Nieu-Zeeland te maak. Gedurende die aand is daar 'n moontlikheid van 40 m-kontakte met Brasilië. Noordoostelike, Noordwestelike, Suidoostelike en Suidwestelike paaie gaan uitdagend wees. Langpadpropagasie na die VSA is ook gedurende die middag moontlik.
10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.
Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer.
Saans is 80 m die beste keuse. Gelukkig is die geraasvlakke a.g.v. statiese ontladings besig om af te neem wat kontakte oor die langer afstande meer aangenaam maak.
Opwindende nuus is dat die Noord-Kaliforniese DX-stigting se internasionale bakennetwerk by die Hermanus Magnetiese Observatorium, ZS1HMO, gemonitor word. 'n Grafiese aanduiding van die ontvange seinsterktes kan by http://spaceweather.hmo.ac.za besigtig word. Kies "Ionospheric Data" en dan "HF Propagation Conditions" om te sien watter bakens onlangs, en nie so onlangs nie, gehoor is.
Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF u aangenaam kan verras. Skakel u stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat u deel van die opwinding is.
Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Junie – Digitale kompetisie vanmiddag en Integnet vanaand;
1 Julie – Aanbieding oor radiogolwe in die ruimte by die HMO;
13 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir digitale kompetisie;
16 Julie - Sluitingsdatum vir instuur van logstate vir Durban ARK se midwinternaelloop.

SARL-Nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Plaas nuusberigte, indien moontlik, in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan. Moet asb. nie nuusberigte aan die Administratiewe Beampte of direk aan een van die bulletinsamestellers stuur nie – die kanse is goed dat u berig gemis sal word en nie in 'n bulletin ingesluit word nie.
Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n podcastuitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.
U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003